‘n Snaakse droom?

Ek het laasnag ‘n besonder helder droom gehad, en die inhoud was vir my ontstellend toe ek wakker word:

Op ‘n strand sien ek ontvoerders, meer as een velkleur, wat vasgebinde, geblindoekde gevangenes lei na 2 karre toe. Die karre is opsigtelik en helderkleurig beskilder met goed soos palmbome, branderplanke, en eiland-drankies met sambreeltjies.

Ek probeer skree: “Haai, wat doen julle? Los daai mense!” maar word geignoreer. (Terloops, in die regte wêreld, anders as in my droom, sal ek nie probeer om waarskynlik gewapende ontvoerders se aandag te trek nie.)

Die polisie kom! Nou sal hulle die gevangenes red! Vir ‘n oomblik verskuif my beeld na kinders wat in vlak water speel. Iemand sê vir die kinders om weg te kyk – hulle moenie kyk wat gebeur nie. Toe die kinders nie dadelik wegkyk nie, druk hy hulle koppe kortliks onder water (drome kan soms vreemd wees) en haal balle uit vir hulle om mee te speel. Die kinders se aandag is nou by bal speel.

Toe my oë weer op die ontvoerders is, is hulle net op die punt om weg te ry, en ek kry die indruk dat die polisie hulle gehelp het. Die vasgebinde mans is nie sigbaar nie. Maar daar was nie tyd om hulle los te maak nie, dus kon hulle nie wegkom nie. Die enigste moontlike plek op die toneel waar hulle kan wees is in die twee karre. Die polisie groet die ontvoerders vriendelik en laat hulle wegry. Oomblikke later stop hulle ‘n polisievoertuig – hulle eie mense – en dieselfde polisielede wat die ontvoerders laat wegry het, deursoek hierdie kar deeglik.

Toe word ek wakker.

Dis ‘n goeie ding om weer wakker te wees. Ek wil graag deel wees van ‘n wêreld waar kant gekies word vir die slagoffers en nie die mense wat vernietig en baas speel nie. Maar dan onthou ek dat ek in ‘n wêreld bly waar politici nog vir Zuma beskerm en gewone mense vir hom stem, waar kerkleiers kindermolestering toesmeer eerder as om slagoffers te help, waar lesers die fiktiewe sadis Christian Grey idealiseer. Wakker word help ook nie.

Jesus, help my om te werk vir U koninkryk. ‘n Koninkryk waar naaste liefhê soos self helfte van die grondwet is. Waar die Koning gekom het om gevangenes vry te laat, blindes se sig te herstel, om onderdruktes in vryheid uit te stuur.

Dalk is daardie koninkryk op hierdie oomblik ‘n snaakser droom as die een oor ontvoerders op die strand, maar eendag sal dit nie wees nie.

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s