Teologie studeer? Ek?

Jy wil eintlik ‘n vroue-dominee word“, verklaar my neef, by wie se slaghuis ek op daardie stadium gewerk het. Ek was 18, en die idee het regtig nog nooit by my opgekom nie. Ek het nog nooit ‘n vrou op ‘n preekstoel gesien nie, en kon myself dus nie eers daar verbeel nie.

So twee jaar terug vra een van die Rhema-pastore my of ek op ‘n kursus wil gaan waar ons geleer gaan word om ander in geslagsgelykheid op te lei. Ek maak toe seker of hulle wel my, ‘n admin klerk wat nie met mense werk nie, daar soek. Haar reaksie was iets soos: “O, op grond van jou blog het ek het gedog jy is ‘n predikant of iets! (Toe wou hulle my nie meer op kursus stuur nie.) Ek was verbaas: Lyk my of my blogs iets reg doen?

Verlede jaar kom ek af op ‘n Facebook-groep af waar iemand wat my dominee was oor my “skinder”:

(Hierdie is die begin van ‘n inskrywing en dan daardie selfde predikant se eie kommentaar op die inskrywing waar ek aangehaal word.)

Huh? Ek is nie ‘n teoloog nie! Ek was nog nooit naby ‘n teologiese skool nie. En ek sal nooit die luukse hê van ses jaar voltyds soos wat die denominasie waaruit ek kom, die NG Kerk, vereis nie. Veral gesien daarin dat mens nie eers noodwendig dan werk kry in daardie rigting nie, klaarblyklik nog meer so vir vroue. (Ek noem die NG Kerk, want dis ook die dominee s’n en hy noem gereformeerde teologie.)

En die pas tel op. Laas Sondag skryf ‘n berader-blogger van Houston, Texas: ” Retha Faurie, a writer in South Africa… and a person I consider to be a good theologian, says [hy haal een van my blogs aan]…”

Hei, wag, ek is nie ‘n teoloog nie. Ek is half trots dat jy my een noem, maar deesdae kan ek kwalik bid. Waarvoor sal ek teologie studeer as ek kwalik kan bid? Wat baat al die kennis, as ek kwalik glo dat ek God self meer verstaan? Gaan ek nie mense van die wal af in die sloot lei nie?

Iets in my hart wens jy was reg. Iewers, vroeër vanjaar, het ek op FaceBook gesit dat ek soms my verbeel ek is op die preekstoel. Maar kerke moet buitendien wegbeweeg van preke wat die middelpunt van alles is, en gemeentes wat “Pastoor Neville se kerk” of “Dominee André se kerk” is -Dit moet God en die hele gemeente se kerk wees.

Gister vra ‘n outisme-verteenwoordiger, ‘n man wat self krities staan teen die Christendom se foute, ‘n ou Facebook vriend wat ek vandag eers in die regte lewe ontmoet het, hoekom ek nie teologie studeer nie. “Ek kan dit nie bekostig nie”, antwoord ek.

“Kyk hierdie video wat my seun gemaak het“, vertel Carla my gisteraand. Die jongman praat oor die roeping uitleef wat God jou gegee het. Twee dinge spring uit in my hart: Ek wil leer (Engels learn) van God. En leer (Engels teach) van God.

Maar die verskonings maal deur my kop: Ek weet nie hoe of waar nie. Ek moet liewer iets prakties gaan studeer wat my vinnig uit werkskaarte deursit kan wegkry. Ek is moeg vir donderse werkskaarte. Ek kan dit nie nog tien jaar doen terwyl ek oor die pos teologie leer in my spaartyd nie. Party dae, as ek heeldag werkskaarte deursit, het ek nie spaartyd vir leer nie. Ek doen werkskaarte, loop huis toe, het kwalik energie vir aandete maak, en klaar geëet slaap ek daardie dae so 10, 11 ure. Intussen vertel my hart hy is reg: Hoekom doen ek dit nie?

Help, Here, want die teologie-ding voel so reg – en so onmoontlik.

As ek wil teologie leer, waar begin ek?

 

2 responses to “Teologie studeer? Ek?

  1. Retha, ek geniet die manier waarop jy skryf! Maar eintlik is jy mos ‘n teoloog, sonder dat jy “amptelik” teologie geswot het.
    Jy het jare gelede die volgende oor my lesmateriaal geskryf: “Lesse wat Leef is die prettigste van die vyf Sondagskool reekse wat ek resenseer.” Toe besef ek hier is iemand wat duidelik ernstig is oor kinderbediening. Hoeveel teoloë voel so sterk oor die feit dat kinders die Woord op die regte manier moet hoor? En is dit nie die kruks van die bediening nie?
    Iemand het eenkeer oor “learn” en “teach” die volgende gesê: They will not learn what we think we’re teaching if we don’t use the correct METHODS.

  2. Liewe Retha, as jy so ‘n roeping voel, dan moet jy dit dalk eerstens ‘n saak van gebed maak. (En ja,die res van my antwoord is nie die van een wat persoonlike ondervinding of besondere kennis het nie, so enige iemand is welkom om van my te verskil.)

    Dan is daar ‘n hele paar praktiese stappe wat jy moontlik sou kon oorweeg. Afstandsonderrig vir ‘n begin (‘n BA) is ‘n opsie. ‘n Tweede is om gemeentes te nader en te vra vir finansi-ele steun of beurse – en as jy dink daar mag dalk vooroordele wees agv jou geslag – nader gemeentes waar daar reeds vrouens in die amp dien. Ek weet van persone wat teologie gaan swot het en God het op wonderbaarlike maniere vir hulle voorsien. ‘n Derde is om by evangelisasie/ uitreikaksies in jou/’n gemeente betrokke te raak. Sodoende kan jy nie net ‘n netwerk van kennisse opbou nie, maar ook jou roeping uitleef en waardevolle ervaring opdoen. Kennisse lei tot meer en ander geleenthede, antwoorde en opsies.

    Soos wat ons die eerste tre-e op die pad gee, so gee God ons die lig waarin ons verder op die pad kan loop. Ek glo die antwoord lê altyd erens in die balans tussen bid en geduldig wag op ‘n antwoord en begin doen wat jou hand vind om te doen want God het ons ook ‘n verstand en ‘n wil gegee om te handel.

    Luk 10: 2 Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s