Tag Archives: prioriteite

Prioriteite, mense!

Drie dinge wat onlangs in koerante verskyn het het my aan die dink gesit. Die een gaan oor (wit) studente wat glo op vleis gepiepie en dit aan (swart) werkers voorgesit het sonder dat die werkers weet daar is op gepiepie. Hulle maak toe rassistiese aanmerkings daarby op die video.

Die tweede handel oor ‘n bekende sanger wat na bewering ‘n seun jare lank gemolesteer het, vandat die seun 10 was.

Die derde gaan oor vyf polisiemanne wat na bewering ‘n meisie, wat 12 was toe dit begin het, oor byna 2 jaar gereeld verkrag het. Een van hulle het dit selfs weer kom doen net na sy ‘n klag by ander polisielede gaan lê het oor die saak.

Objektief beskou, is laasgenoemde seker die lelikste van die 3 verhale, en eersgenoemde die minste erg. (Die derde verhaal is vir my erger as die tweede omdat dit 5 misbruikers en verkragting insluit, terwyl die tweede geval oor een misbruiker gaan en nie sodomie insluit nie.)

Watter een maak landswyd en internasionaal opspraak? Die eerste een, oor dit rasse-konnotasies het.

Watter een maak landswyd opspraak? Die tweede een, oor dit ‘n (plaaslik) bekende sanger insluit.

Watter een het niemand feitlik raakgesien nie? Die derde een, want die mense betrokke is seker dieselfde ras en geen beroemdes is betrokke nie.

In die eerste voorval is ek seker die betrokkenes sal ten minste die straf kry wat hulle toekom, indien nie ‘n erger straf nie. In die ander twee gevalle is ek nie so seker nie.

As die omstandigheidsgetuies wat lank vermoedens gehad het in die hof vertel wat hulle gesien het, is daar baie getuienis teen die oom in die tweede verhaal. Maar aan die ander kant kan die oom uitstekende regsverteenwoordiging bekostig.

In die saak van die verkragte meisie weet ek regtig nie of daar geregtigheid gaan wees nie. En doen die land dan nie eers meer ‘n sielkundige profiel op iemand voor hulle hom in die polisie aanstel nie?

Die owerhede sal sorg dat die arme mense wat onwetend miskien piepie gedrink het berading kry. Die sanger se slagoffer sal seker maar self moet sorg dat hy berading kry. Wat die meisie wat deur die polisiemanne verkrag is betref, gaan iemand sorg dat sy berading kry? Enigiemand?

Kom ons raak vir ‘n slag die kwaadste oor wat die meeste saak maak. En swart-teen-swart of wit-teen-wit misdade is ‘n niks kleiner skande as wit-teen-swart misdade nie.