In liefdevolle herinnering

 

Ouma

Ouma

Ek was verlede naweek by my ouma se begrafnis in Cradock. Salomina Magdalena Faurie, gebore Wolmarans, wat op haar 99ste verjaardag van ons weggeneem is. Ek was baie lief vir haar, maar dis nie só hartseer dat sy dood is nie. Sy het ‘n lang en vol lewe gehad, en was oud en swak op die einde. Sy is beter af waar sy nou is.

Wat my hartseer gemaak het was die min mense by haar begrafnis.
Sy was ‘n besonderse vrou. Ek was beindruk, toe sy sewentig was, hoe sy nog kon vooroor buk en met bene reguit by die knieë, haar hande plat op die grond kan neersit. Toe ek dit noem Saterdag, voeg my neef se vrou by dat sy op 80 nog haar tone kon raak so.

Sy was slim ook. Sy het matriek gemaak in die 1920’s. Op daardie stadium is dit ‘n hoë geleerdheid gewees, veral vir ‘n vrou.

Sy het tot op 89 nog op haar eie gebly en nooit vergeet om vir my of my broers te skryf op ons verjaarsdae nie. Mense wat haar geken het in haar laat 80’s, was verwonderd oor hoe helder haar verstand nog is. ‘n Neef van my aan die ander kant van die familie (die kant wat nie verwant is aan haar nie) het haar ontmoet toe sy naby aan 90 was. Sy het bal vir bal krieket met met hom bespreek, en man vir man die meriete van spelers. Hy was verstom.

Sy het haar ook nie sommer laat onder kry nie. My neef, wat op daardie stadium uit was om te skok, het eenkeer ‘n string vloekwoorde oor die telefoon gebruik. Hy het nie gedink dis sy ouma wat die foon opgetel het nie. Sy antwoord hom toe: “Weet jy, Barto? Afrikaans is só ‘n ryk taal, met só baie woorde, dat mens ure lank kan Afrikaans praat sonder om eenkeer te vloek.”

Sy het tot op 89 ook nog ‘n vroue-bybelstudiegroep by haar huis gelei. Die vroue wou net nie hê dat iemand anders dit oorneem nie! Sy het ook stapels koeksisters gebak, die lekkerste koeksisters wat ek nog geproe het. Baie van daardie koeksisters het ten bate van sending verkoop. (Af van die onderwerp af: Heelwat van die interessantste mense wat ek al ooit ontmoet het het ‘n hart vir sending gehad. Passievolle mense is interessante mense. En daar is nie verniet ‘n term soos “missionary zeal” nie.)

As haar hart op 89 gaan staan het sou daar baie mense by haar begrafnis gewees het, mense wat onthou het dat sy merkwaardig was. Maar intussen het sy fisies verswak, en toe doof geraak. Laasgenoemde beteken dat maak nie saak hoe skerp sy nog was nie, sy kon dit moeilik kommunikeer. En toe het haar denke ook begin agteruit gaan. En op die ou end was weinig meer as haar kinders, kleinkinders en hulle wederhelftes daar. Nie oor sy nie besonders was nie. Maar oor te veel mense haar vergeet het.

Het hierdie pos enige punt vir mense wat nooit vir Ouma geken het nie? Ja. As jy besonderse mense ken, moet hulle nie vergeet nie. Dis al.

10 responses to “In liefdevolle herinnering

  1. Retha
    Dis besonders, hierdie deel (sharing) van jou ouma, met ons. Miskien was daar ook min mense want sy het baie van haar vriende oorleef?
    Dit bly wonderlik dat ‘n vrou so ‘n voorbeeld vir haar gesin kan wees.

  2. Retha, baie dankie vir die herinnering dat ek my besonderse moeder net more moet gaan besoek.. Baie jammer oor jou ouma.

  3. Besonderse inskrywing. Sterkte.

  4. Roerende inskrywing. Voorspoed. So leef mense verewig, in ons herhinneringe.

  5. Baie jammer om te hoor oor jou ouma, besonder vrou inderdaad om so lank te leef en gesond te bly tot net voor die einde.

  6. Retha, dankie dat jy dit met ons deel. Sy moes ‘n merkwaardige vrou gewees het. Inderdaad, nou is sy op ‘n beter plek.

  7. 🙂

    Dankie vir die inskrywing. Jy het my om die beurt aan my oorlede ouma laat dink (sy’t ongelukkig nie 90 gehaal nie, hehe) wat net so min wou “oud” wees. Voorbok by kerkbasaars, koekverkopings, bybelstudies…jou ouma klink na die soort ouma wat myne was. Hoewel ek nie dink myne kon haar knieë haal soos joune by ‘n afbuksessie nie!

    Dis die goeie herinneringe wat ‘n mens moet koester. Ek hoop jou beste herinneringe vervaag nie, want dis hulle wat spesiaal is. Sterkte met die rouproses, sterkte met die seer.

  8. Dankie Sus dis regtig n mooi stuk. en ons was almal regtig lief vir haar.

  9. Dis ‘n baie waardevolle les – dankie dat jy ons weer daaraan herinner. Jou ouma klink na ‘n baie inspirerende mens.

  10. Baie mooi inskrywing. Jammer oor die verlies en sterkte!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s