Ja, kerke moet gays verwelkom!

Met die begin van reenboogvlaggie-maand, of te wel (Gay) Pride month, gaan ek iets erken wat ek eintlik nie wil erken nie. Ek is al klaar ‘n outistiese misfit wat onwelkom voel in die kerk – en dit gaan vir my nog veroordeling kry.

Maar, hier is dit: Ek stem nie naastenby saam met hoe die konserwatiewes in die kerk homoseksualiteit hanteer nie. Dit gaan nie oor hoe my medegelowiges vyf spesifieke Bybeltekste aanhaal nie – minstens drie van daardie tekste is waarskynlik goed vertaal en beteken seker wat hulle op gesigwaarde beteken.

Dit gaan oor wat hulle nie doen of sê nie. Jesus het saam met sondaars geëet, en so geleef dat mense by hom welkom gevoel het – ek hoor nooit dat een persoon wat oor homoseksualiteit as sonde praat iets soortgelyk doen nie. En dit – nie die woord sonde nie – is waarom die kerk soms liefdeloos teenoor die gay gemeenskap genoem word. As jy my vertel jy weet van ‘n uitsondering, fantasties! Ek sal nie kla as die uitsondering die reel word nie.

Lees voort

Bybelles – Ons God maak alles

Hier is ‘n les vir laerskoolkinders oor Genesis 1.

KIX-kinders: ‘n Vinnige oorsig

Vroeg in die jaar lees heelwat mense gewoonlik my reeks resensies van 9 jaar gelede – Ienie Mienie Maainie Mou – watterkategesemateriaal moet my gemeente kies?

Vandag praat ek oor ‘n les-webblad waarmee ek laat verlede jaar eers kennis gemaak het, naamlik KIX Kinders.

 Eerstens moet ek erken dat ek nog nooit hierdie lesreeks gebruik het met kinders nie.
Ek het wel oor die algemeen ‘n oorsig oor lesboeke se se name en temas en aparte lesse se name bekyk, en gedink hoe dit saamwerk. Ek het dan ook so 10 lesse individueel deurgelees en myself vrae gevra soos watter ouderdom dit voor werk.

> Ddie lesse wat ek individueel deurgekyk het lyk kindervriendelik met heelwat aktiwiteite, en veral reg vir Gr. 1-3s. (Meeste gemeentes het deesdae min kinders en het kinders van Gr 1-6, of van kleuters tot Gr. 6, in een groep. Enige materiaal vir so ‘n groep sal soms baie eenvoudig vir ‘n 12-jarige of moeilik vir ‘n 5-jarige wees.) Met ‘n groep van slegs en alleenlik Gr. 4-6, of slegs en alleenlik Gr 4-7, sal ek dalk eerder iets spesifiek gemik op daardie ouderdom aanbeveel.

> Ek het gesoek op die blad vir verwysing na ‘n denominasie, maar sien nie so iets nie. Ek vind egter niks in my oorsig wat problematies vir ‘n Christelike kerk sal wees nie.

> Ek hou baie daarvan dat dit voorstelle vir stil word aan die begin van lesse insluit. En dat dit soms die seenbede van “Die Here sal jou seën en jou beskerm… Sy vrede gee” insluit – ek wil nie daardie mooi ding in die “grootmense se kerkdiens” los nie.

> Een van die dinge wat moeilik is in die opstel van ‘n kategeseprogram is die volgorde van lesse:
Mens kan byvoorbeeld by Genesis begin en jare lank net Ou Testamentiese lesse aanbied voor jy by lesse oor Jesus uitkom. Dit sal ‘n chronologiese aanbieding wees. ‘n Ander benadering sou wees om elke jaar iets uit die vroegste Bybelboeke, dan iets uit latere Ou Testamentiese geskiedenis, dan iets uit die profete, dan ‘n paar lesse oor die lewe, sterwe en opstanding van Jesus, en dan ‘n paar lesse oor die vroeë kerk en Nuwe Testamentiese briewe aan te bied, chronologies elke jaar. Of mens kan tematies werk.

Hierdie program werk in daardie opsig anders as meeste wat ek al gesien het: As mens die program volg soos as jy jou muispyl oor die hofie “Argief/ aparte lesse” het, lyk dit of 2 jaar sal om gaan sonder om van Jesus te praat: 2020 was oor die pentateug, 2021 oor die rigters en profete. Volg mens hom in die volgorde van die boeke wat beskikbaar is of gaan word, gaan jy ook omtrent 2 jaar (uit 6) lank nie van Jesus praat in die Sondagskool nie: Boek 1-8 uit die 24 boeke (elke boek het blykbaar 6 lesse, dus omtrent 4 boeke per jaar) is net ou Testament. Ek dink nie dis ideaal om vir 2 jaar in die kategese byna nie Jesus te noem nie. Maar ek erken geredelik dat kategete kwalik twee jaar sal gaan sonder om van Jesus te praat, selfs as hulle Ou Testament lesse aanbied sal hulle Jesus iewers noem en oor hom sing. Buitendien het KIX
spesifieke lesse vir jaarlikse geleenthede soos Kersfees en Paasfees (op ‘n ekstra blad) wat mens by die program kan inwerk: https://kixkinders.co.za/ander-lesse/ Uiteraard gaan Paasfeeslesse, Kersfeeslesse en Hemelvaartslesse oor Jesus.

> Dit lyk of die program heeltemal gratis volledig op hulle webblad beskikbaar gestel word aan gemeentes. Baie, baie dankie, dan, KIX, vir julle onbaatsugtige werk! Hierdie prent (van hulle blad af saamgestel vir resensiedoeleindes) wys wat tans beskikbaar is (op pienk) en wat hulle reken binnekort beskikbaar sal wees (op wit):

KIX handboek-PDFs van ses lesse elk. Die materiaal op lings is nou beskikbaar, materiaal op regs kom glo binnekort.

In kort: As jy met Gr 1-3 veral, maar ook oor die algemeen met ‘n groep van kleuters af tot ouer laarskoolkinders werk, is wat ek gesien het van hierdie materiaal goed – ek wil graag meer sien en sal dit met liefde kan gebruik in ‘n gemeente wat hiermee wil werk.

Is die NG kerk in ‘n treurige toestand?


Opdatering: Ek het intussen geleer dat Glo die Bybel nie die dolerendes se webblad is nie. GdB treur egter wel oor die NG Kerk se standpunt – of gebrek daaraan – oor die saak wat sentraal staan in hierdie artikel. Die hoofpunte van die artikel staan dus onveranderd.
—————

Tot eergister toe het ek nie die woord doleer geken nie. As ek moes geraai het, sou ek dink dit beteken iets soos opdollie – om oordadige rokke aan te trek en baie grimering op te sit. Dit was dus vir my nogal boeiend toe ek hoor verskeie NG dominees doleer. (Noudat ek verstaan waaroor hulle doleer, is my eerste gedagte oor hierdie manlike dominees nogal ironies.)

Dit was interesant genoeg dat ek die regte betekenis van die woord opgesoek het. Toe leer ek doleerders is iets anders: Hulle treur oor die kerk (na hulle mening) die regte pad verlaat het:

“‘n Dolerende gemeente is dus ‘n treurende gemeente wat treur oor ‘n kerk wat die pad van die Woord byster geraak het. Dolerende gemeentes skei nie (onmiddelik) af nie, maar laat die kerkverband duidelik weet en besef dat hulle treurend sal bly totdat daar bekering by die kerk kom en ‘n terugkeer na die Woord plaasvind”, is hoe Tafelberg Gemeente dit bewoord.

Wanneer het die NG kerk (glo) die pad verlaat? Waaroor treur hulle? Het die kerk die pad verlaat toe hy oor kleinigheidjies van die Doppers en Hervormers afgeskei het? (Joh. 17:21) Of toe hy denominasies soos die NG Sendingkerk gestig het eerder as om almal saam in die kerk te verwelkom? (Gal 3:28) Het hy die pad verlaat toe hy in die NP regering se sak was? (Joh. 18:36, Mark 12:17) Het hy die pad verlaat toe hy uit die regering se sak uitgeklim het?*

Is hulle hartseer dat in ‘n land waar byna 80% van die bevolking hulself Christene noem, die moord- en verkragtingsyfers so hoog is?

Pla die yslike gaping tussen ryk en arm in die land hulle? God het immers land regverdig tussen Sy volk uitgedeel (Num 26:53) en was besorg oor armes. (Deut 15:7-8, Spreuke 14:31, 19:17, 21:13, 22:16, Eseg 16:49-50, Luk 4:18, 6:20-21 en 24 en 31, 18:22 Hand 4:34-35, Jak 1:27)

Treur hulle oor die krimpende lidmaattal, oor hoe min kinders in die kategese is, oor hoeveel kinders die kerk verlaat na belydenisaflegging? God roep ons om dissipels te maak (Mat 28:19-20) – pla dit hulle dat die kerklidmate dan daal en nie styg nie?

Nee! Hulle treur, kragtens die webblad GloDieBybel, oor wat die NG Kerk oor homoseksualiteit, die duiwel, skrifgesag en Jesus se maagdelike geboorte sê. Oor party onderwerpe gee hulle lyste van Bybelverse, maar oor ander gee hulle hul eie menings ook. As GloDieBybel byvoorbeeld oor mans en vrouens se beweerde “rolle” praat, gee hulle tans agt artikels wat nie net Bybelverse is nie, en dan ‘n artikel van hul eie, en dan eers Bybelverse. (Hulle reken mans moet baas wees en vroue klaas, en hulle glo dit sterk genoeg om nie bloot by die Bybel te bly nie, maar hulle eie menings by te sit. Ek het al op hulle eerste skakel – ‘n artikel wat in Afrikaans in JUIG en Engels in JOY was – gereageer, en daardie artikel “reageer” op my brief aan JUIG/JOY.)

Maar dis duidelik dat die punt waarby hulle begin en waarna hulle oor en oor terugkeer oor selfde geslag verhoudings (SGV) gaan. Voor ons oor hulle treurende (treurige?) toestand praat, moet ek iets bely. Die oomblik toe ek die naam Glo die Bybel lees, het my rughare regop gespring.

Dis belangrik om die Bybel te glo. Dis ook belangrik om hom in konteks te lees, want dan is wat jy glo inderdaad wat die skrywers – en die Gees wat hulle inspireer – bedoel het. Maar ek het al te doen gehad met mense wat sê: “Ek glo die Bybel!”/ “Jy moet die Bybel glo!” / “Die Bybel sê jy moet só maak!” Meeste van diesulkes verstaan nie dat ander mense ook Bybel lees, en dan die inhoud probeer in konteks verstaan – en opeindig om die Bybel anders te verstaan as hulle nie. Hulle glo eintlik dat hulle die enigste Bybel-glo-ers is, en dat almal wat anders dink dan uiteraard geen respek vir die Bybel het nie.

Daarom, toe ek die naam Glo Die Bybel sien, het ek begin dink aan iets waaroor ek treur: Die verdeeldheid en mure waarmee gelowiges hulle broers en susters weghou van hulself af. Aan die verskonings, soos “hy glo nie die Bybel nie”, wat ons keer om medegelowiges (mede-glo-ers) as broers en susters te sien.

Maar weg van my tranedal af, terug na hulle s’n. Die 2019 besluit oor SGV van die NG kerk kom basies hierop neer (alle versierende taal oor verantwoordelike skrif-vertolking en versoening as ons verskillend dink uitgelaat):


6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte, lidmate se: 6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe, 6.2 toegang tot die sakramente, 6.3 integriteit van verhoudings, en 6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem 6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se: 7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe, 7.2 toegang tot die sakramente, 7.3 integriteit van verhoudings, en 7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.

2019 besluit oor SGV van die NG kerk

Dit kom neer daarop dat, kragtens die besluit, iemand wat gay aantrekking beleef ook geroep kan wees, en ook so skoon kan lewe voor die Here as enige ander gelowige. As party gelowiges reken dat skoon lewe selibaatheid vir ‘n gay persoon beteken, en ander reken dit beteken bloot getrouheid aan een maat, word die regte antwoord nie hier uitgespel nie. Dus kan mense wat selfdegeslag-aantrekking beleef (gay seksuele oriëntasie het) hiervolgens ook die geskikte persoon vir ‘n spesifieke kerkrol wees. Die besluit vra immers dat die persoon se belydenis, roeping, spiritualiteit, getuienis van leer en lewe, integriteit van verhoudings, en teologiese vorming in ag geneem word.
Sovêr ek kan sien, is die enigste soort mens wat probleme met hierdie bewoording kan hê, is iemand wat reken dat ‘n man of vrou wat gay aantrekking beleef glad nie in enige kerk-amp mag dien nie, en só ‘n teologiese student mag nie gelegitimeer word nie – ongeag toewyding aan God, ongeag roeping of kennis, selfs as die persoon selibaat bly, ongeag die integriteit van hoe hulle met hulle medemens omgaan. En dit kan tog nie! Om te reken dat sulke versoekings – selfs as jy nie daaraan toegee nie – mens heeltemal onvanpas vir enige kerkrol maak, is glad nie in pas met hoe God in Sy genade met mense werk nie.

8. Die Algemene Sinode erken dat daar: 8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie, 8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.

9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig.

2019 besluit oor SGV van die NG kerk

Enige gemeente is dus vry om hulle God, die Bybel, en hulle gewete te volg waar díé hulle lei. Is dit so erg om predikante en gemeentes te laat besluit hoe hulle God en die Bybel verstaan oor ‘n saak, veral as verskillende gelowiges nie ‘n paar Bybelgedeeltes daaroor dieselfde verstaan nie?

En nee, die doleerders het nie alle wysheid oor die saak nie. Weens verskeie redes glo ek die treurendes is nie bloot besig om die skrif te volg nie. Maar daardie dinge is rede vir ‘n volgende inskrywing.



———————————-

Verwysing:

* Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis kan dit verkeerd wees om nie invloed in die regering te soek nie:

“DIE BURGERLIKE OWERHEID

… [God het] die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en die deugsames te beskerm. En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord van die evangelie orals te laat verkondig… Eks. 18:20; Rom. 13:1; Spr. 8:15; Jer. 22:3; Ps. 82; Deut. 1:16; 16:19; 17:16; 2 Kor. 10:6; Ps. 101; Jer. 21:12; Rig. 21:25; Jer. 22:3; Dan. 2:21-22; (5:8); Jes. 49:23; 2 Kron. 23; 1 Kron. 15:12; Rom. 13:1; Luk 22:1; 1 Pet. 2:17; Tit. 3; Matt. 17:27; Hand. 4:17-19; Hand. 2, 5; Hos. 5:11; Jer. 27:5; 2 Pet. 2:10; Jud. 1:10; 1 Tim. 2:2. “

Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 36

As die “hulle” wat afgodery en vals godsdiens moet uitroei die burgerlike owerheid is, dan reken hierdie geloofsbelydenis ons moet invloed in die regering hê.


Psalm 20 – ‘n beryming

Foto: Geleen op Internet

Deur Retha Faurie

Mag die Here jou hoor
in jou dag van nood.
Mag die God van Sion help.
O, Sy naam is groot.

Mag Hy jou offers onthou
en jou planne laat werk.
Mag Hy jou gee wat jou hart begeer,
dan juig ons as kerk.

Die Heer sal dat Sy kinders
in die stryd oorwin.
Uit die Heilige hemel
hul gebede gun.

Party vertrou op oorlog –
ons vertrou op die Heer.
Ons sal regop bly staan,
maar hulle val neer.

Heer verhoor tog ons gebed.
Ons sal roep – en U sal red.

__________________________________

Naskrif: As jy hierdie gedig van my wil toonset, kontak my. Jy kan my ook vra om hier en daar ‘n lettergreep of drie meer in te sit, of uit te haal, om by jou wysie te pas.

Paasfees 2020 – Oordenking vir ‘n Paasfees met toe kerkdeure

Vir die eerste keer wat ons kan onthou, is die kerke se deure toe hierdie Paasfees. Hoe laat hierdie gedagte jou voel?

Hartseer? Verward? Alleen? Wanhopig? Dalk sou julle iets spesiaal doen by die kerk, en jy voel gefrustreerd oor dit nie gaan gebeur nie? Of voel jy dalk ‘n rustigheid daaroor, dat God sy tyd het met alles?

Die goeie nuus is: Die kerk se deure hoef nie toe te wees hierdie Paasfees nie! Ons kan dit oop hou.

Die ware kerk is nie ‘n gebou nie, en die regte kerkduere sit op ‘n ander plek. Die enigste manier wat die kerk se deure kan toe wees hierdie jaar, is as ons nie na Christus se klop luister nie:

Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. – Openbaring 3:20

As die kerk se deure dan by gelowiges se harte sit, wat kan jy doen om die deure oop te hou? Ek kan aan drie dinge dink:

1) Bogenoemde teks verwys na of jy al vir Christus in jou ingenooi het. As jy hoegenaamd ‘n blog-inskrywing met ‘n opskrif soos hierdie lees, is die kans goed dat jy “ja” kan antwoord.

2) Jy kan egter ‘n gelowige wees, maar nog nie elke hoekie van jou hart – alles agter jou hart se kamerdeure en kasdeure en selfs kluisdeure – vir Christus gegee het nie.

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand…” – Lukas 10:27a

3) As die kerk se deure dan op ons harte sit, maak jy jou hart oop vir andere? Gee jy waarlik om vir die mense wat oor jou pad kom?

“… en [jy moet] jou naaste [liefhê] soos jouself.” – Lukas 10:27b

Wat kan jy vandag doen om kerkdeure oop te hou hierdie Paasfees – en altyd?

Young woman practicing yoga on the beach.

Foto: Geleen

‘n Nuwe jaar by die Kinderkerk (Sondagskool/ Kategese) – waar begin ek?

Foto vanaf teachingbiblelessons.com/

Liewe kinderkerk-leier/ kategeet/ sondagskool-sekretaresse/ kinder-mentor, hoe voel jy daaroor dat jy in 2020 by kinderbediening betrokke gaan wees? Voel jy opgewonde? Senuweesagtig om iets nuut aan te pak? Dalk nog effens moedeloos van laasjaar af, met dalende getalle of – so voel dit vir jou – dalende belangstelling van die kinders af wat wel daar is?

Hoe dit ook al sy, in Christus is daar altyd rede om met verwagting uit te sien na wat Hy deur jou en in jou wil doen hierdie jaar.

Hier is wat jy vanjaar het:

> Jy het die voorreg om by te dra in die verkondiging van die mooiste, mees verrykende ewigheidswaardes.
> Jy deel dit met die mees beinvloedbare ouderdomsgroep.
> God roep sy kinders om die woord te verkondig – en met moderne kerkstrukture met een predikant en ‘n klomp luisteraars op ‘n Sondagoggend kry mens maar min kans daarvoor.

Hierdie Sondag gaan alles dalk nog nie reg loop nie. Rome is nie in een dag gebou nie. Hier is dus net so ‘n bietjie raad om dit reg van die begin af te laat tel: Lees voort

Die “sataniese” Ronald McDonald- skilder, en slegte motiewe

Het jy geweet dat, kragtens een van die belydenisse van Afrikaanse kerke soos die NG Kerk, een van hierdie twee prente sonde, soos in regte 10-gebooie-verbied-dit-direk-sonde is?

Michelangelo, The Creation of Adam

Kunswerk deur ‘n student by Grantleigh School, wat Ronald McDonald wys in die plek wat God op die vorige skildery inneem.

Het jy dalk nou verkeerd geraai? Die sondige kunswerk is Michealangelo se oorspronklike weergawe heel bo. Die Heidelbergse Kategismus se verstaan van die 10 gebooie is dat uitbeeldings van God sonde is.* Die punt van hierdie inleiding? Wat jy in hierdie kunswerke lees, is dalk nie wat die volgende persoon daarin lees nie.

Lees voort

Hoe moet ‘n konserwatiewe gelowige reageer op die NG Kerk se besluit oor gay insluiting?

Foto: Maroela Media

Die NG Kerk het eergister besluit dat gemeentes wat hulle weg oopsien om dit te doen (let wel: geen gemeente word verplig nie) gay paartjies mag trou, gay mense in die ampte mag hê, ens. (‘n Vorige soortgelyke besluit was al op ‘n tegniese punt herroep, glo oor vergaderingsprosedures nie reg gevolg is toe dit besluit is nie.) Soos voorspel, het konserwatiewe gelowiges onmiddelik krities begin reageer.

Dit is nie die mees Jesus-agtige reaksie is nie. As jy nou onmiddelik 5 of 6 versies vir my wil aanhaal, ontspan! Ek gaan nie nou redeneer dat jy jou idee oor gay omgang, of jou verstaan van daardie tekste, moet verander nie. Ek redeneer vir ‘n bril van liefde, ongeag hoe jy die betrokke groepie tekste verstaan wat jy nou wil aanhaal.

Liefde is immers die groot gebod, of dan die twee groot gebooie.

As jy vertel dat homoseksualiteit verkeerd is, praat jy nie in die eerste plek met die losbandige gay rondslaper-man nie. Hy sit waarskynlik nie in die kerk om jou te hoor nie. Jy praat met die 13-jarige Kelvin* wat lief is vir Jesus, die saggeaarde outjie wat nog nooit seks gehad het nie, maar begin besef hy hou van seuns eerder as meisies. Jy praat met Julia*, 16, wat reeds besef sy is “anders”, wat dalk ongewild is oor sy anders is.

Hierdie tieners is niks slegter as hulle maats net oor hulle seksuele versoekings anders is nie. As ons Christus se kerk wil in stand hou, moet ons ewe veel plek maak vir Kelvin en Julia en hulle aanmoedig om in Christus te leef, as vir die ander.

Trouens, ons moet dalk méér moeite maak. As jy Kelvin verwerp, en jy moedig sy ouers aan om skaam te voel oor hom, raai maar self waar hy binnekort gaan aandag soek. Nie oor hy slegter as die volgende tiener is nie, maar oor hy liefde ewe nodig het.

Dit wil vir my voorkom dat die gelowiges wat gay omgang sonde noem, eweneens moet sê:

“Ons mag gay mense in die ampte hê? Great! Ons wil baie graag ons weg oopsien om nie te diskrimineer teen mense nes ons wie se seksuele versoekings anders as ons s’n is nie! Gays, julle is welkom hier nes enigiemand anders, ons wil julle ewe welkom hê as ouderlinge/ predikante, mits julle lewe soos ons verstaan reg is. Ons besef dat ons julle nog meer moet ondersteun, nog meer ‘n geestelike familie vir julle moet wees, want selibaatheid is moeiliker as om te mag trou.”

Die God van die Evangelie is ‘n uitnooier en insluiter: Hy roep mense na Hom toe. Ja, God het idees oor reg en verkeerd. Maar Hy roep ons nie om onsself skoon te kry en dan na Hom te kom nie, Hy omhels ons nes ons is, en begin werk dan aan ons.

Hieraan weet ek die konserwatiewes is nie besig om God se wil te spreek nie: Gelowiges sal geken word aan die vrug van liefde. En nie één konserwatiewe gelowige wat ek gehoor het, het gereageer met taal wat gay vroue en mans, seuns en dogters, wil inroep in die kerk in nie.

Kan ‘n mens getroue bywoning vereer by die Kategese (Sondagskool/ Kinderkerk) – sonder om die ander kinders te laat uitgesluit voel? (Lesplan vir ‘n Sondagskool-prysuitdeling)

15 jaar gelede: Die vrou bel my, as kategeet, die middag net na die prysuitdeling. Sy is baie ontsteld: Haar stiefdogter het ‘n sertifikaat vir getroue bywoning gekry. Haar dogter het nie. Maar hulle gaan saam klas toe. Trouens, hulle is in dieselfde ouderdomsgroep en dus albei in my klas. Daar was een Sondag die jaar wat een dogter nie lekker gevoel het nie en tuis gebly het, en die ander dogter wel klas toe gekom het. Soos die reels werk, was die een meisie se bywoning só dat dit presies op die lyn van getroue bywoning geval het, die ander presies daaronder.

Onlangs: ‘n Kategese-mentor wonder hoe mens kinders kan aanmoedig om getrou te kom. Deesdae kry elke kind ‘n sertifikaat, ongeag of hulle getrou of selde daar was.

 – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – –

Hoe doen mens ‘n prysuitdeling-funksie met laerskoolkinders? Is dit moontlik om getroue bywoning te vereer by laerskoolkinders sonder om die minder getroue bywoners te laat sleg voel oor hulself? Jy wil graag kinders beloon wat bv. getrou klas toe kom (of dalk al die memoriseerverse leer, of waarvoor jy ook al wil dankie sê), maar verstaan dat kinders nie altyd self kan kies of hulle ouers hulle bring nie. 

Hier is ‘n idee hoe mens ‘n prysuitdeling kan hou waar jy kinders kan beloon vir wat hulle gedoen het, terwyl ander kinders ook ingesluit word. Intussen gee jy ‘n geestelike boodskap vir die kinders wat hulle motiveer om hulle beste te gee vir die Here ook in dinge wat julle as kinderkerk-leiers/ kategete/ Sondagskool-onderwysers nie raaksien nie.

Vooraf:

1) Sertifikate word voorberei vir al die kinders. Hiervoor word saamgewerk met kleingroep-leiers, wat met die kinders gewerk het en dus vir jou ander eienskappe kan gee waarvoor hulle spesifieke kinders wil vereer. (Byvoorbeeld: > les-kennis as daar ‘n vasvra is, > die memoriseer van teksverse (as dit deel van die lesse in jou gemeente is), > erediens-bywoning (as die “normale eredienste van jou gemeente nie gelyklopend met jou byeenkoms aangebied word nie, en jy die bywoning aanteken), > hulpvaardigheid (vir kinders wat bv. na die tyd die juffrou help klas opruim), > deelname aan ander gemeente-aktiwiteite soos bv. ‘n kerkkonsert, > ‘n nuwe kind help tuis voel, > aandagtig luister in die klas, ens.)

Hierdie kan byvoorbeeld die sertifikaat-bewoording van een van die getrouste bywoners in jou gemeente, en een wat net so een of twee keer ‘n kwartaal kom, wees:

Goue bywoningsertifikaat

Toegeken aan Matilda Lourens. 

Dankie dat jy 92% bywoning by die kategese het, 82% kerkbywoning op kategese-Sondae het, deelgeneem het aan die gemeente-Melodrama, teksverse memoriseer, hulpvaardig is.

 

Geteken: Ds. Lida van den Berg, kleingroep-mentor Hans Otto

NG Oos Gemeente

Romeine 12:11 Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here

 

Bywoningsertifikaat

Toegeken aan Tyler Fernandez.Dankie dat jy vanjaar kategese bygewoon het by ons.

 

Geteken: Ds. Lida van den Berg, kleingroep-mentor Hans Otto

NG Oos Gemeente

Romeine 12:11 Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here


2) Bring ook ‘n klein kombersie en die gevisualiseerde teksvers – Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.— Mattheus 6:6 – saam na die byeenkoms.

Les:
God sien wat jy doen, en sal jou beloon

Ons gaan vandag ‘n handeklap-kompetisie hou. Daarvoor het ons 4 kinders nodig.

Bo klap, onder klap…

Dawie* en Elize* gaan deelneem, en julle wat sit is die tellinghouers.

“Julle gaan vandag tel hoeveel keer Dawie* hande klap, en hoeveel keer Elize* hande klap. Wat hulle moet doen, is om eers bo, dan onder, dan weer bo, dan weer onder, (demonstreer) hande te klap. Julle aan die linkerkant tel die handeklappe wat julle Dawie sien maak. Julle aan die regterkant tel die handeklappe wat julle Elize sien maak.”

Roep dan nog twee vrywilligers vorentoe: Hulle staan lings en regs van Elize, effens vorentoe, en hou die kombersie voor haar, sodat mens haar net van die borskas af op sien. Helfte van haar handeklappe is dus onsigbaar. (Moenie ‘n baie klein kindjie wat dalk maklik gefrustreerd sal wees vir Elize se rol kies nie.)

“Wanneer ek sê: “Gaan!”, dan begin julle. Gereed… Op julle merke… Gaan!” Jy hoef nie lank aan te hou nie – teen die tyd wat die Dawie-kant tot 12 of 14 getel het is lank genoeg.

Vra vir die kinders hoeveel keer hulle Dawie sien hande klap het. En Elize? Dan vra jy vir hulle of die kompetisie regverdig was.

Gesels oor hoe, net soos hierdie kompetisie, ons party mooi dinge wat mense doen raaksien, en party nie. Maar God sien alles. “Vandag gaan ons dankie sê vir die kinders wat getrou klas toe gekom het, en vir die kinders wat [noem ander dinge wat op die sertifikate voorkom] gedoen het waar ons dit kan sien.

Baie dankie daarvoor, ons wil graag jou bedank vir die mooi dinge wat ons jou sien doen. Ander van julle doen dalk mooi goed wat ons nie sien nie, baie soos die hande-klappe wat agter die laken was. Miskien help jy jou ma by die huis. Miskien bring jy altyd van jou eie sakgeld Sondagskool* toe, en nie net jou ma se geld nie. Miskien het jy die Bybelstorie wat jy hier geleer het vir ‘n maatjie oorvertel: Jy leer dan ‘n maat van Jesus! Miskien onthou jy om elke dag te bid. Ons kan jou nie beloon vir hierdie mooi dinge nie, maar God sê Hy sal. Mens gaan hemel toe oor wat Jesus doen – nie oor mooi dinge nie – maar God beloon jou ook vir wat jy doen.

God sien hierdie dinge wat ons nie sien nie. Die Bybel sê: “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”​—Mattheus 6:6 (Wys vir hulle die teksvers, uitgeskryf op papier, of op Powerpoint-skyfie.) 

[Ek/ dominee Lida/ pastoor Kobus – noem die persoon wat sertifikate oorhandig] gaan nogtans vandag dankie sê vir die mooi dinge wat ons kategete/ kinderkerk-leiers julle sien doen het.

Prysuitdeling:

(Hierdie is ‘n riglyn en jy sal dit natuurlik alles met ‘n * aanpas soos dit jou gemeente pas.)

As jy ‘n werklik groot groep het, werk dit nie om elke kind se naam voor die hele groep uit te lees nie, dit kan regtig lank vat. Verdeel dan in kleiner ouderdomsgroepe vir die res van die prysuitdeling.


Lees eers die kinders met goue bywoning* se name uit en roep hulle op die verhoog; “Vir goue bywoning – meer as 85%* van die kategese*-Sondae, wil ons dankie sê vir …..”, en oorhandig hulle sertifikate. Lees dan ook die ander mooi dinge op hulle sertifikate uit, bv. : Charlie Mkwetha, Matilda Lourens en Hannes McDonald se sertifikate is ook vir teksverse memoriseer*, Matilda Lourens, Hanlie De Wet en Elmo September het aan die gemeente-Melodrama deelgeneem*…

Bedank hulle, en laat die groep hande klap vir hierdie kinders.

Doen dan dieselfde vir die kinders met silwer bywoning*, terwyl die kinders met goue bywoning dalk effens na agter skuif op die verhoog, om plek te maak vir die nuwes.

Nou roep jy die res en doen dieselfde. Noem dat jy opreg elke kind se bywoning, luister en saamdink oor die Bybel waardeer – selfs die kinders wat net een of twee keer die jaar daar was, het nog steeds daardie een of twee kere iets goed gedoen.

Laat die ouers/ gemeente/ groepleiers in die gehoor, plus die kinders op die verhoog, vir hulle/ mekaar hande klap.

Laat die kinders afstap, bedank dan die leiers vir hulle getrouheid. Jy kan weer die boodskap beklemtoon deur vir die kinders te vertel: “Julle sien hoe hierdie ooms en tannies kinderkerk* gee, maar julle sien nie hoe hulle voorberei en hoe hulle vir julle bid nie – God sien dit alles, en Hy is bly.”

Sluit af met gebed, insluitend om God te dank vir elke kind en kinderkerk-leier* wat hom wil dien en eer, en lof dat Hy sien wat mense nie sien nie.

 ____________________

Naskrif: Wat dink jy van hierdie artikel? Lewer gerus kommentaar. As jy hierdie les aanbied later vanjaar by ‘n prysuitdeling, kan jy my ook vertel hoe dit gewerk het.